0 Comments

Perfek vir ‘pop up’

WOORDE Maciek Dubla FOTO’S Fay Jackson 


Read in English.

Merchants on Long het pas die restaurant Merchants Café geopen waarmee hulle Kaapstad deur middel van verskeie “pop up”-restaurante aan die geure van Afrika wil bekend stel. Die ontwerpers Liam Mooney en Michael Chandler het aan Maciek Dubla verduidelik hoe hulle met badkamerteëls, spaanderbord en 16 000 feeliggies ’n uiters veelsydige ruimte geskep het.

Niemand weet hoekom die Merchants on Long-gebou, een van die oudstes in die Moederstad, oorspronklik in die laat 1800’s gebou is nie. En al het die eienaars deur die jare gekom en gegaan, is die gebou sedert 2010 bekend as ’n tuiste vir kontemporêre Afrika-ontwerp. Nou is die geskiedenisboeke nóg ’n bladsy ryker met die opening van die nuwe Merchants Café in ’n ewe geskiedkundige gebou oorkant die straat.

“Die restaurant is ’n saamwerkprojek tussen ’n paar van die beste skeppende kunstenaars in Kaapstad; ’n plek waar sjefs en ontwerpers besoekers aan hulle styl kan bekend stel,” verduidelik Hanneli Rupert, die grand dame van Merchants on Long. “Dit is egte Afrika-ontwerp, maar ook weelderig, kontemporêr en bowenal eenvoudig sodat ‘pop up’-restaurante maklik hulle intrek kan neem en die ruimte hulle eie maak.”

As jy eers oor die drumpel tree, verstaan jy dadelik waarom die gedetailleerde interieur wat ses maande geneem het om te voltooi, ’n ontwerp(er)-samewerking is in letterlik elke sin van die woord. Die beste skeppende kunstenaars waarna Hanneli verwys, is die ontwerper Liam Mooney en die dekoratiewe kunstenaar Michael Chandler. Liam was verantwoordelik vir die interieur van die ruimte, terwyl Michael die breekware wat besoekers sal gebruik om aan Merchants Café se Afrika-cuisine weg te lê, ontwerp en met die hand gemaak het.

“Hanneli wou ’n baie veelsydige, eenvoudige ruimte hê wat maklik verander kan word volgens die ‘pop up’-restaurant wat daardie week sy intrek neem,” verduidelik Liam die opdrag an hom. “Dit moes die etos van die Merchants-handelsmerk weerspieël en ’n Afrika-gevoel hê, sonder om kitsch of soos ’n temarestaurant te voel. Die ruimte moes gesofistikeerd dog gemaklik wees.”

Omdat hulle die geskiedenis van die gebou wou behou maar terselfdertyd ’n jeugdige energie vestig, is die mure ’n kombinasie van ou stene en klip, met sekere dele wat met mat en blink wit badkamerteëls geteël is. ’n Mens is eers van die sterk kontras bewus, maar dit word gou duidelik hoe goed die teëls die rou teksture van die muur komplementeer.

Die meubels is ’n mengsel van duur en meer bekostigbare ontwerp. Die sessitplek-tafels van poeierverfbedekte staal, spaanderbord met lakvernis en ’n ligte weefmateriaalstof lyk of dit bra min detail bevat, maar dit slaag daarin om die ruimte te versag. Die visuele impak van die 16 000 feeliggies wat die plafon bedek en in die brons spieëls weerkante van die vertrek weerkaats word, slaan die asem weg.

Hoewel die meubels doelbewus teen die agtergrond verdwyn, staan Michael se reeks handgemaakte blou-en-wit ontwerper-keramiekware lieflik uit teen die eenvoud van die spaanderbord.  Hy het meer as 300 houers, vase, opdienborde, grootborde, bakke, bekers, kruike, teepotte en sout-en-peperbakkies versier, en elkeen spog met Merchants Café se aweregse kenteken wat met die hand geverf is. Dit beteken nie ’n enkele een van die stukke is dieselfde nie.

Toe Michael hoor van die duisende feeliggies, het hy besluit om die breekgoed met ’n superglans-afwerking af te rond om die liggies te weerkaats en te sorg dat dit lyk of die kos “rus op ’n glinsterende see van skittersterre”.

Die estetiese is een ding, maar uiteindelik is die praktiese elemente net so belangrik as die versierings en ontwerp. “Die belangrikste ding wat ek moes onthou, is dat al die keramiekware funksioneel moet wees en die aanhoudende hantering in ’n restaurant kan weerstaan,” erken Michael, ’n ware esteet. “Ons het ’n materiaal gebruik wat teen ’n hoër temperatuur gebak word om te verseker die stukke is so sterk as moontlik. Om die ‘harde aard’ van keramiek te versag, het ons ’n mat glasuur vir die die buitekant van die eetgerei gebruik. Dit voel syagtig as jy daaraan raak, amper soos ’n volstruiseier. Ek wou hê mense moet die restaurant verlaat en voel hulle het ’n spesiale oomblik met die kos en die keramiekware gedeel.”

Michael het ook Merchants Café se wynetiket ontwerp. Die Ruperts se rooi versnit word as die restaurant se unieke huiswyn gebruik, en die etiket is geïnspireer deur ’n 17de eeuse etswerk wat Michael in ’n antieke boek gevind het.

Liam en Michael het saam ’n ruimte geskep wat ewe perfek is vir ’n vinnige koffie of om tot ounag toe oor aandete uite span. Merchants Café sit die visie van Merchants on Long voort as ondersteuner en patriot van Afrika. As ’n mens kyk na die verstommende talent in Kaapstad, kan VISI nie wag om te sien waarmee Afrika se smulpape en skeppende siele ons gaan verras nie.

Langstraat 36, 021 422 2828, www.merchantsonlong.com

Die vier wenners van die Merchants Cafe bottel wyn en unieke Michael Chandler-bord is The Nelda van Staten, Jacques Nel, Jayshree Govender en John Maarschalk. Baie geluk!

Print

Other articles that may interest you

0 Comments

There are currently no comments for this item.

Add a comment

Please sign in below or register in order to make a comment.

    Forgotton password?
    Click the above link to reset your password.
    EXPLORE VISI.CO.ZA