0 Comments

5 vrae aan Faith47

November 9, 2012   Tags: street art, faith47, david krut

Read in English

Met haar lieflik stemmingsvolle spuitverf-boodskappe wat reeds in tientalle wêreldstede en kunsgalerye opgeduik het, het Faith47 haar gevestig as Suid-Afrika se bekendste straatkunstenaar. Tog was ’n groot solotentoonstelling in ’n plaaslike galery haar nog nooit beskore nie. Ons het tien vrae aan haar gestuur, en sy het vyf geantwoord.

Faith47 se tentoonstelling Fragments of a Burnt History het op 8 November geopen by David Krut Projects in Johannesburg, waar dit tot vroeg in 2013 te sien is. Die uitstalling bestaan uit ’n installasie van voorwerpe wat sy opgetel het, kunswerke wat in ’n kunsateljee geskep is en ’n reeks monotipes wat sy in samewerking met die David Krut Print Workshop geskep het.

Verduidelik die denke agter Fragments of a Burnt History?

Die titel is tragies. Ek tel geruimte tyd reeds ‘skerwe’ van ons verlede op en stel dit naas die hede ingeval ons dit dalk vergeet. Ons verlede én ons hede dwing as’t ware ’n korttermyn-geheue op ons af, en harte wat uiters stadig klop.

Suid-Afrika beskik oor ’n kragtige kombinsie van meedoënlose inspirasie en verwoestende wanhopigheid. Ek dink dit kry gestalte in die kleure en teksture van die kunswerke.

As deel van die aanloop tot die tentoonstelling het jy ook die projek “The Long Wait” in en om Johannesburg aangepak. Waar kom die idee vandaan en hoe het jy dit ’n werklikheid gemaak?

Ek is geruime tyd reeds geïnteresseerd in hierdie “gewag” – dis immers wat ons almal doen: wag. Die hele land wag; ’n mens sien immigrante wat in lang rye staan en selfs buite die kantore van die departement van binnelandse sake oornag. Mans in ál langer rye wat wag op los werk. Ek neem al lank foto’s hiervan en tob hieroor. My vriendin Alexia Webster het ’n paar fantastiese foto’s van hierdie wagtende mans geneem en ek het dit in ’n ateljee in skilderye verander wat daarna in rye reg oor Johannesburg aangetree het.

Hoekom lyk dit of jy al in meer oorsese galerye as plaaslik uitgestal het?

Dit is maar hoe dit gebeur het. Daar is op internasionale vlak al ’n hele paar jaar belangstelling in my werk, terwyl dit plaaslik eers die afgelope twee jaar vlamgevat het.

Maar ek voel ook my behoefte om hierdie werk te skep, hierdie spesifieke tentoonstelling, bevat beelde wat deur my ontstaan het omdat ek in hierdie land leef. Ek dink nie ek sou die Fragments of a Burnt History-tentoonstelling in enige ander land as Suid-Afrika kan hê nie omdat dit spesifiek verwys na kwessies en emosies wat in hierdie omgewing ontstaan het. Die werk kan dalk by ’n groter gehoor aanklank vind, maar ek vermoed dit sal plaaslik veel beter verstaan word. Dit is iets wat ek as’t ware uit my gestel moes kry, om respek te betoon aan die diep pyn en skoonheid van hierdie land.

Straatkuns in ’n formele galeryruimte is altyd ’n netelige kwessie wat verskillende kunstenaars op verskillende maniere aanpak. Hoe benader jy dit?

Die werkproses in ’n ateljee is kalm; jy het beheer oor die omgewing. Dit is baie meer ontspannend en jy kan jou idees op ’n dieper manier ondersoek.

Om buite te skilder is ’n taamlik chaotiese ervaring. Daar is soveel dinge wat jy in gedagte moet hou: die weer, mense wat jou pla, hoe mense voel oor waarmee jy besig is. Dit is op fisieke vlak baie meer intens. Jy asem as’t ware die stad in. Jy voel dit. Jy ontmoet ’n magdom uiters uiteenlopende mense en ervaar baie wilde en roerende dinge.

Ek hou daarvan om in my ateljee weg te kruip wanneer ek genoeg gehad het van die buitewêreld. Dit is soos meditasie… ek ontgin alchemie, roep geeste op… Maar wanneer ek ’n volslae energie-inspuiting nodig het, gaan skilder ek op straat. Dit was tot dusver ’n uiters kragtige ervaring in my lewe, iets wat ’n mens nederig maak en nie aan mense kan verduidelik nie.

Wat is volgende op jou program?

Ek gaan in November Miami toe, en vir volgende jaar beplan ons tot dusver projekte in Hawaii, Londen, Italië, Wene, Nepal, Hongkong en die VSA.

David Krut Projects, 140 Jan Smuts Avenue, Johannesburg, davidkrutprojects.com

Print

Other articles that may interest you

0 Comments

There are currently no comments for this item.

Add a comment

Please sign in below or register in order to make a comment.

    Forgotton password?
    Click the above link to reset your password.
    EXPLORE VISI.CO.ZA