0 Comments

Verversingspos

November 26, 2012   Tags: eat out, babylonstoren, karen roos

FOTO’S Dook PRODUKSIE Annemarie Meintjes WOORDE Johan van Zyl


Read the English article

Babylonstoren se skouspelagtige Glaskas wat ook as teetuinrestaurant dien, is op 25 November 2012 by die 2012 Eat Out-toekennings aangewys as die wenner van die gesogte Boschendal-styltoekenning.

By Babylonstoren swaai variëteite die septer.

“ ’n Magdom variëteite – dít is waarvan ons hou, wat ons regtig interesseer,” verduidelik die immer elegante, immer ingetoë mede-eienaar Karen Roos, skynbaar min gepla met ’n nare post-Holland-verkoue of die temperatuur wat in die middel-dertigs huiwer. “Ons hou van plante met ’n gevoel van geskiedenis, plante wat ’n storie vertel… the more the merrier.”

Dis hier waar Babylonstoren se nuwe Glaskas in die prentjie kom. Dié kweekhuis van donkergroen staal en 4 mm- versterkte glas laat hulle toe om te eksperimenteer met variëteite wat in die plaas se asemrowende formele vrugte-en-groentetuin óf sukkel óf vrek weens die Wes-Kaap se winterreën en gebrek aan vog in die somer. Eksotiese  grenadellas, gemmer, kardemom, pynappels, draakvrugte, vanielje en ’n interessante kruising tussen ’n grenadella en koejawel is nou aansienlik gelukkiger in hul nuwe tuiste.

Liesl van der Walt, die tuinkurator by Babylonstoren, is ook in haar noppies omdat hulle nou in die winter kan begin groente saai sodat hulle die saailinge vroeglente in die tuin kan uitplant en só ’n vroeër en langer oesseisoen kan verseker.

Om by die Glaskas uit te kom volg ’n mens ’n perskepitpaadjie wat deur die groente-vrugte-en-kruietuin van agt akker loop en beweeg in die proses verby ’n verstommende 350-plus spesies. Die tuin is ’n ode aan die 17de en 18de eeuse Kompanjiestuin van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie en is ontwerp deur die Franse argitek Patrice Taravella, eienaar van die Middeleeuse kloostertuin  Prieuré Notre-Dame d’Orsan.

Die Glaskas nestel onder ’n versameling middelslag-eikebome wat die afgelope jaar geplant is en spog met ’n varia tafels en ’n klomp kleurvolle Luxembourg-stoele – die klassieke parkstoelontwerp – wat binne en buite die kweekhuis staangemaak is. Dié kruising tussen ’n kweekhuis en teekafee is ’n verrassende dog totaal logiese verversingspos vir gaste wat pas een van die tuintoere (daagliks om 10:00) voltooi het.

Dit is juis hierdie verrassingselement wat Karen tans nog pla. “Hierdie eikebome beter hulle litte roer,” lag sy, “en so ook die grenadellas en ander variëteite aan die binnekant… tans is die struktuur nog net te groots, te verrassend, en die uitgangspunt by Babylonstoren was nog altyd om dinge gelykmatig, gebalanseerd, kalm en harmonieus te hou. Tydloos. Niks mag ooit te dominerend wees nie, behalwe natuurlik Simonsberg  self.”

Volgens Karen is die Glaskas se standaarddeure en ander fyner detail asook die verwyderbare dakskerms van bamboes ingevoer van Serres d’Antan in Frankryk, terwyl die finale ontwerp ’n saamwerkprojek was tussen haar en Babylonstoren se algemene bestuurder, Terry de Waal, ’n opgeleide industriële ingenieur. Gerard de Villiers van Kleinood wat bekend is vir sy betrokkenheid by die ontwerp van meer as 150 wynkelders (ook die een op Babylonstoren) het gehelp om die Glaskas op ’n siviele- en strukturele-ingenieursvlak ’n werklikheid te maak.

Hoewel ’n groot waaier, vensters en deure en ’n gevorderde missproeistelsel van Mister Twister help om die temperatuur en humiditeit aan die binnekant te reguleer, het hulle intussen geleer ’n mens moet in die somermaande maar eerder ’n wye draai om die die paar tafels aan die binnekant loop – tensy jy natuurlik ’n eksotiese pynappel is!

Dit is maar net een van daardie dinge, sê Karen, want, soos alles anders op die plaas wat so skeppend getransformeer is, was die geboorte van die Glaskas ook ’n “baie organiese” proses waar “die groter prentjie altyd in gedagte gehou is – en behoue bly – terwyl jy byvoeg en redigeer… presies dieselfde manier waarop ’n mens ’n tydskrif benader”.

Hulle het byvoorbeeld veel later in die skeppende proses eers besef dat die plaas dringend meer ruimte vir besoekers nodig het. Babel, Babylonstoren se veelgeprese konseprestaurant onder aanvoering van die kos- en kreatiewe konsultant Maranda Engelbrecht en sjef Simone Rossouw, is dikwels weke voor die tyd volbespreek en net te veel besoekers moes huiswaarts keer sonder iets te ete of drinke.

“Maar,” sê Karen, “terselfdertyd verwag ’n mens ’n teekafee in ’n park-omgewing, of hoe? ’n Plek waar jy net wil sit en tee drink en die bries geniet en nog sit en gelukkig wees – ’n plek wat jy nie weer wil verlaat nie.”

En glo my, Babylonstoren se Glaskas is dié soort plek. 

Eetstyl

“Delft-breekware verbind ons met 300 jaar gelede,” sê Karen terwyl sy die teekafee se nuwe versameling tafelbedekkings en plekmatjies ooprol. Dit is op herwinde papier gedruk en die gebruikte papier gaan weer reguit komposhoop toe. Karen het alles self ontwerp en ’n versameling grys kunssketse van plaasdiere en lieflike blou Delft-borde as inspirasie gebruik. (Loer ook na Karen se bydrae tot VISI se Delft-trendverslag.)

Die Delft-tema word by die ingang na die tuin langs Babel bekend gestel waar eeue oue Delft-skerwe wat tydens uitgrawings ontdek is, nou onder glas uitgestal word. Die tema word voortgesit in die manjifieke tuin waar al die persimmonbome uiteindelik deur Delft-sirkels omring sal word. “Kan jy jou voorstel hoe beeldskoon ’n helderoranje persimmon lyk wat – poef! – op die blou land?” wil Maranda Engelbrecht later oor ’n koppie tee weet. “Ek dink ek kan dalk net flou val!”

Soos by Babel fokus die teekafee se ligte spyskaart op seisoenale produkte uit die tuin. Besoekers kan hulle eie middagete saamstel deur uit vier verskillende soorte broodrolletjies, vier kase en vier charcuterie-items te kies. Dit word mooi toegedraai in een van die Delft-plekmatjies en tafel toe gebring saam met drie lieflike Weck-glasflesse wat onderskeidelik vars slaai, ’n tuisgemaakte blatjang of piekel en kruie-olie bevat.

“Ons het mooi gedink oor hoe ons die kos aanbied,” sê Maranda. “Saam met glasborde en messegoed kom sekere verwagtinge. Ons het dus op ’n informele benadering besluit met pragtige Perspex-eetgerei en gaste wat hul plekmatjies of tafelbedekking as ’n bord gebruik. Maar die koppies en pierings is Delft – soos dit hoort!”

Babylonstoren Glaskas 021 863 3852, www.babylonstoren.com, Woensdae tot Sondae 10:00-16:00.

R10 toegangsgeld na die plaas word gehef – dit word aan die Babylonstoren Trust geskenk.

Print

Other articles that may interest you

0 Comments

There are currently no comments for this item.

Add a comment

Please sign in below or register in order to make a comment.

    Forgotton password?
    Click the above link to reset your password.
    EXPLORE VISI.CO.ZA