0 Comments

As die (groen) skip inkom...

FOTO’S Dook PRODUKSIE Klara van Wyngaarden en Annemarie Meintjes WOORDE Jacquie Myburgh Chemaly


Read in English.

’n Kinderhuis in Midrand wat met 28 skeepsvraghouers gebou is, het nie net die lewe van die mense wat daar woon verander nie, maar ook die ingesteldheid van die ontwerpers daaragter. Dié storie oor ’n gemeenskap met gees en superkoel ontwerp het VISI se hart gesteel.

 Die koerantknipsel uit die Midrand Reporter word netjies in plastiek bewaar. Op die foto is iets wat lyk soos ’n kruising tussen ’n Legoblokkie-gebou en ’n kleurontploffing: die New Jerusalem Children’s Home op ’n kleinhoewe tussen Johannesburg en Pretoria.
Een van die jong meisies wat daar woon, het die knipsel bo haar bed opgeplak en trots langsaan geskryf: “My lovely home – a five star hotel.” Dié woorde gee ’n mens ’n intieme kykie op die ongelooflike impak wat dié merkwaardige huis het op die wees- en weerlose kinders wat enkele maande gelede hier ingetrek het.

New Jerusalem is 12 jaar gelede begin toe twee susters, Anna en Phina Mojapelo, besluit het om iets te doen aan hulle gemeenskap se byna desperate behoefte aan blyplek en beskerming vir MIV-wesies en ander kinders in kwesbare situasies. Die susters – onderskeidelik ’n advokaat en maatskaplike werker – het aanvanklik hulle eie huise oopgestel en met net een kind begin. Vandag bied hulle skuiling aan meer as 80 kinders op ’n slag. Toe dit duidelik word dat hulle ’n groter huis vir die kinders moes kry, het hulle hul beheerraad genader vir raad.

Dit was New Jerusalem se vrywilliger en fondsinsamelaar Adrienne Feldner wat vorendag gekom het met die idee om ’n kinderhuis uit vraghouers te skep. Dit het weliswaar ’n tydjie geneem om die beheerraad hiervan te oortuig, maar Adrienne het intussen kontak gemaak met die Amerikaanse argitek Adam Kalkin, wat onmiddellik gaande was oor die New Jerusalem-projek en na Suid-Afrika gevlieg het om saam met die plaaslike argitekte Sean Wall en Mia Anfield te werk. Groot skenkings deur die Nederlandse liefdadigheidsorganisasie Orange Babies, Metair Investments en die Eskom-ontwikkelingstigting het die bouwerk moontlik gemaak.

Maar dit was maar net die begin van die merkwaardige storie van New Jerusalem, want bo en behalwe die feit dat dit as skuiling dien vir weeskinders, is die kinderhuis ook besonder “groen” danksy die ontwerp- en konstruksiegemeenskap wat die idee ondersteun het.
 
Suid-Afrika se beroemdste landskapontwerper Patrick Watson was in die wolke om die tuine te behartig, en sommige van die land se voorste dekor- en ontwerpverskaffers het goedere en dienste geskenk om New Jerusalem ’n werklikheid te maak.

Die kinderhuis het ook fotovoltaïese panele geïnstalleer wat hulle in staat gestel het om die elektrisiteitsnetwerk te verlaat. Om die waarheid te sê is dit nog net die munisipale watertoevoer en vullisverwydering wat hulle nie self behartig nie. “Maar ons hoop om in die afsienbare toekoms ook hierdie dienste te groet,” sê Adrianne. “Soos fondse beskikbaar word, sal ons boorgatwater begin gebruik en wurmplase aanskaf om die afval te verwerk.”

Die geld vir die fotovoltaïese panele het New Jerusalem op ’n baie interessante manier bereik. Die Nederlandse afdeling van die Europese supermarkreus Lidl het ’n veldtog van stapel gestuur waarin ’n persentasie van elke LED-gloeilamp wat in Holland verkoop is, aan New Jerusalem geskenk is om vir die sonkragprojek te betaal.

Lidl het saam met ’n organisasie genaamd “Do the Bright Thing” gewerk om te verseker die energie wat gebruik is om die gloeilampe in Europa te vervaardig, “uitgekanselleer” word deur die energie wat by New Jerusalmen gespaar word.

En dit is maar net een van die ongelooflike stories wat hierdie kinderhuis ’n werklikheid gemaak het.
Print

Other articles that may interest you

0 Comments

There are currently no comments for this item.

Add a comment

Please sign in below or register in order to make a comment.

    Forgotton password?
    Click the above link to reset your password.
    EXPLORE VISI.CO.ZA