0 Comments

Supergroot Superette

WOORDE Malibongwe Tyilo FOTO’S Fay Jackson


Read in English.

Superette, Kaapstad se vooruitstrewendste boetiek-eetplek vir smulpape wat glo “plaaslik” is koning, het na die Woodstock Exchange geskuif en terselfdertyd veel groter geword. Meer ruimte, meer ontwerp, meer kos en meer boetiekbier. VISI se alomteenwoordige rondreisende redakteur, Malibongwe Tyilo, doen verslag.

Toe Superette in 2010 sy deure oopgemaak het, was dit maar een van ’n handjie vol ondernemings wat dit in Woodstock se effe berugte Albertweg gewaag het. Die eienaar, Cameron Munro, het egter die gebied soos die palm van sy hand geken – hy het immers saam met sy vennoot Justin Rhodes die suksesvolle Neighbourgoods-mark by die Old Biscuit Mill begin.

Dit is ’n klompie jaar later, en Albertweg het ontpop in een van die Moederstad se gewildste en koelste plekke vir inkopies en middag- of aandete. Die ou Woodstock Industrial Centre is sedertdien opgeknap en staan nou bekend as die Woodstock Exchange. Die nuwe sentrum spog met van die koelste klere- en meubelwinkels – natuurlik nie die groot korporatiewe soort nie, maar eerder die werk van plaaslike ontwerpers wat hulle skeppings met die hand maak. Die sentrum is ’n viering van die nuwe skool van Suid-Afrikaanse ontwerp met ’n eiesoortige internasionale gevoel, as ’n mens dit so kan noem.

Cameron en sy span het besluit hulle wil deel wees van hierdie byderwetse mengsel en het die nuwe Superette hierheen geskuif. Op die spesifieke oggend wat ek daar gaan aansit het vir ontbyt, het ek die kookwater bykomstighede-ontwerper Katherine Pichulik daar raakgeloop, en enkele minute later het die gevierde performance-kunstenaar Athi-Patra Ruga ingestap vir ontbyt – en dis maar net die twee besoekers wat ek geken het…

As jy ’n gereelde besoeker by die ou Superette was, is die eerste ding wat ’n mens opval hoeveel groter die nuwe ruimte is – minstens dubbel so groot as vantevore. Daar is nie net plek vir meer tafels en stoele nie, maar ook vir kuns, soos die pottebakkerswerk en keramiekstukke wat Cameron versamel. Jy sal ook spatsels vaalgeel gewaar, ’n kleur wat Cameron na die nuwe ruimte oorgebring het.

Indien jy nie lus voel nie om by een van die tafel-en-stoelkombinasies van staal en hout aan te sit wat deur ontwerpers soos Gregor Jenkin en Xandre Kriel gemaak is, kan jy een van die stoele by die venstertoonbank kies, jou toestel inprop en inlog by die stedelike klankbaan wat Albertweg bied. Die groot vensters sorg dat jy Woodstock se woeligheid in sy volheid kan ervaar, terwyl die kantvenster oopmaak in die middel vir ’n naatlose binne-buite-gevoel.

Jy sal ook die oomblik as jy instap, dadelik bewus wees van die veel groter fokus op ontwerp – van die oopplan-gevoel eie aan treinstasies in Europa tot die Kokedama-plante wat uit die plafon hang. Dié “potlose” plantstyl is besig om die wêreld op horings te neem, en Marissa Pretorius se onderneming Opus het dit na hierdie deel van die wêreld gebring. 

Maar uiteindelik is dit nie net die boetiekbier, die heilsame spyskaart en die ontwerpermeubels wat VISI regtig opgewonde maak oor die nuwe Superette nie: Ons is ook in die wolke oor al die ondersteuning wat Superette aan plaaslike ontwerpers en kunstenaars gee. Gaan maak ’n draai en ervaar self waarom dit nie blote lippediens is nie en waarom hierdie ontwerpers keer op keer terugkeer om die eetplek te ondersteun.

Superette 7 vm. tot 5 nm., Woodstock Exchange, Albertweg 66, Woodstock, www.superette.co.za

Malibongwe "Mali" Tyilo is VISI se rondreisende redakteur wat by al die gesogte openingsaande opdaag en foto’s neem vir sy blog, Skattie What Are You Wearing. Volg hom op Twitter by @skattie_what.

 
 
Print

Other articles that may interest you

0 Comments

There are currently no comments for this item.

Add a comment

Please sign in below or register in order to make a comment.

    Forgotton password?
    Click the above link to reset your password.
    EXPLORE VISI.CO.ZA