0 Comments

Woodstock raak nywerheidsjiek

WOORDE Nadine Botha FOTO’S Sydelle Willow Smith


Read in English.

Die Woodstock Exchange, Kaapstad se kookwater nuwe ontwerpbestemming, huisves nou amper al die Moederstad se koelste jong ontwerphandelsmerke onder een dak. Sydelle Willow Smith vertel die storie in haar foto-essay.

Ná ’n grootskaalse bou-en-breekprojek wat ’n jaar geduur het, het die Woodstock Exchange laasmaand stil-stil (en nieamptelik) sy deure oopgemaak, amper asof hy die Moederstad uitdaag om nié notisie te neem nie. Maar toe hulle ’n week voor Kersfees die papier afpluk van die nuwe vensters op straatvlak om die blinknuwe, supergroot Superette-eetplek te onthul, was die spreekwoordelike kat uit die sak.

Gewilde Kaapse ontwerperhandelsmerke soos Pedersen + Lennard, Honest Chocolate, Dark Horse, Thingking, Lady Bonin’s Tea Parlour en Word of Art neem die grootste deel van die grondvloer in beslag, terwyl die eerste verdieping spog met nog ontwerpers en galerye. Die res van die sentrum bestaan uit kantore, onder meer dié van Google en die Bandwidth Barn.

As handelsruimte volg die Woodstock Exchange in die spore van Europa, waar ontwerpers in dieselfde ruimte produkte ontwerp, vervaardig en verkoop – dit gee klante die geleentheid om die ontwerpers te ontmoet, te sien hoe produkte gemaak word en om dan iets eksklusiefs saam huis toe te neem. As ontwerpbestemming sluit die tweede fase van die ontwikkeling in die installasie van verskeie groot kunswerke, vertel die ontwikkelaar Nick Ferguson.

Die sentrum wat voorheen as die Woodstock Industrial Centre bekend gestaan het, is regtig lieflik herontwerp en opgeknap in ’n styl wat ’n mens nywerheidsjiek sal noem – die volmaakte tuiste vir ’n skeppende gemeenskap wat hul beste voet voor gaan sit tydens die Moederstad se jaar as die 2014 Wêreldontwerphoofstad.

Wees egter gewaarsku die parkeerplek is taamlik skraps, en ons beveel aan jy gaan maak eerder ’n draai op jou fiets. Die hele projek is uiters fietsvriendelik met onder meer hope fietsrakke en die Starling and Hero Bicycle Café, en daar is boonop openbare storte ingerig om die huurders aan te moedig om die speke te laat sing werk toe.

Woodstock Exchange, Albertweg 66, Woodstock, woodstockexchange.co.za

 

 

Print

Other articles that may interest you

0 Comments

There are currently no comments for this item.

Add a comment

Please sign in below or register in order to make a comment.

    Forgotton password?
    Click the above link to reset your password.
    EXPLORE VISI.CO.ZA