0 Comments

Italiaans doen 'n nuwe dans

February 4, 2013   Tags: durban, georgia chennells, hillcrest, kevin boyd, stretta

WOORDE Georgia Chennells


Read in English

Al is Stretta ietwat weggesteek in die Heritage Market in Hillcrest, Durban, draai dié klein “cucina” (kombuis) en “cantina” (kelder) die konsep van Italiaans heeltemal op sy kop.

Stretta Cucina is ’n besadigde restaurant wat “eenvoudige, vars Italiaanse kos” voorsit, oftewel pizza, pasta, wyn en bier. Hoewel die benadering totaal fieterjasieloos is, beteken dit allermins die klassieke bestanddele bly agterweë: Hier word steeds regte Italiaanse meel gebruik, vars, tuisgemaakte tamatiesous en ’n klassieke houtoond, terwyl die eweneens eerlike kroeggedeelte fokus op boetiekbier, ’n klein wynversameling en eksieperfeksie espresso’s.

Wat ’n mens dadelik van die eetplek opval, is die minimalistiese, gestroopte interieur met sy blink afgevlakte sementvloer, hope wit teëls en ’n rou betonplafon met ’n bende piepklein liggies. Dié “nywerheidsminimalisme” vorm ’n interessante kontras met die ruim, heilsame porsies wat uit die kombuis hulle verskyning maak.

Vir Hillcrest, waar die grootste behuisingskompleks so Toskaans is as kan kom, is Stretta ’n bietjie broodnodige “ontwerp-vergifnis”…

Voeg hierby die oorrompelende geur van geroosterde knoffelhuisies en varsgemaalde koffie en die kuierklanke van vrolike mense, en jy verstaan dadelik hoekom almal deesdae toesak op dié saamtrekplek in die Highway-gebied.

Die naam Stretta kom van die Italiaanse woord vir “nou”, en is gekies vanweë die lang, dun vorm van die ruimte. Stretta Cantina, ’n uitbreiding van die Cucina, het onlangs in die ruimte langsaan oopgemaak. Vreemd genoeg is dit een van die min kroeë in Durban met meer staan- as sitplek – ’n besonder sosiale aandjie is dus gewaarborg.

Die nywerheidsgevoel van die hoofrestaurant word voortgesit in die kroeg-gedeelte, maar het terselfdertyd ’n eiesoortige gevoel danksy die mure wat oorgetrek is met spykerbordpanele, knus sithoekies met lieflike knoop-sitplekke en swart mosaïekteëls op die vloer. Die kroeg is heelwat meer speels omdat die spykerbordpanele geskuif kan word en kan dien as hangplek vir prente, jasse en selfs vir wynbottels agter die kroeg.

Die binne-argitek Kevin Boyd het duidelik baie pret gehad met minimalisme en ’n fop-kandelaar geskep met 35 piepklein liggies in ’n formele rooster-uitleg. Hy is ook ’n tipografiemeester en sy byderwetse grafiese spyskaart-, plakkaat- en T-hemp-ontwerpe vir die restaurant gaan beslis versamelaarsitems word. 

Stretta, Heritage Market, Ou Hoofweg 9, Hillcrest, 031 765 8862, www.stretta.co.za

Bly op die hoogte deur @strettacucina op Twitter te volg en “like” strettacucinahillcrest op Facebook

Print

Other articles that may interest you

0 Comments

There are currently no comments for this item.

Add a comment

Please sign in below or register in order to make a comment.

    Forgotton password?
    Click the above link to reset your password.
    EXPLORE VISI.CO.ZA
    wooded bliss

    wooded bliss
    VISI 19

    Refocus

    Refocus
    VISI 68