0 Comments

Pure plaas in die stad

WOORDE Maciek Dubla FOTO’S Oranjezicht City Farm en Maciek Dubla


Read in English.

Talle van Kaapstad se openbare groen ruimtes word nie na behore gebruik nie, maar nou het Sheryl Ozinsky ’n plan om gemeenskappe met behulp van selfvolhoubare stedelike plase te verenig en op te voed. Maciek Dubla het met haar gesels oor die Oranjezicht-stadsplaas (OZCF), die proefprojek wat as’t ware die eerste saadjie plant vir nog vele plase in die stad.

Op internasionale vlak is stedelike of stadsplase beslis g’n nuutjie nie – jy sal dit aantref op enigiets van die dakke van geboue in Bangkok, San Francisco en Londen, in etlike buurte reg oor die VSA en selfs langs besige spoorlyne in Australië. In Suid-Afrika het die gedagte van stadstuine ietwat langer gevat om wortel te skiet en te groei, maar die konsep het ’n groot hupstoot gekry met die ontwikkeling van die Oranjezicht City Farm (OZCF) – die eerste stap van ’n groter projek wat hopelik uiteindelik tot die vestiging van 20 stadsplase reg oor Kaapstad sal lei. 

Sheryl Ozinsky, een van die aanvoerders van die projek, ontmoet my op die plaas wat tussen Sidmouth-laan en Bo-Oranjestraat geleë is. Hoewel hulle nog besig is met die uitlegwerk, is die basiese ontwerp klaar en in die beddings saai Johannes, een van die boere, ’n voormalige mynwerker van Limpopo, reeds groentesaad. Plaaslike inwoners het reeds ’n paar jaar gelede met die idee vorendag gekom, maar Sheryl se onblusbare passie vir die OZCF ken duidelik geen perke nie.

“Ons visie is baie ambisieus, maar as jy ’n saadjie plant en die gemeenskap koester dit en gee dit water, kan jy absoluut engiets regkry,” verduidelik sy terwyl sy oor die plaas uitkyk. “Dit gaan vennootskappe, sweet, vuil stewels en groen vingers verg, maar dit is alles die moeite werd.”

Die OZCF is ’n projek sonder winsbejag wat daarop gemik is om kos en die gemeenskap te vier, vandaar die slagspreuk “From Bowling Green to Bowl of Greens”. Die terrein van die OZCF vorm deel van die oorspronklike plaas Oranje Zigt wat in 1709 uitgemerk en  een van die talle erfenisterreine in die Moederstad is. Met hulp van opvoeding, ontwerp en groentetuine sal die projek hopelik as katalisator dien vir die ontwikkeling van verskeie vaardighede en opvoeding oor kos en omgewingskwessies, maar terselfdertyd as toonvenster vir wat moontlik is met die talle openbare groen ruimtes in die stad wat óf glad nie óf nie na behore gebruik word nie.

Wat vir Sheryl die heel belangrikste is omtrent die OZCF, is die versterking van die “maatskaplike binding”: om inwoners van die buurt weer met mekaar in kontak te bring en uiteindelik ook met ander buurte en gemeenskappe. “Dit gaan daaroor om verhoudings te bou tussen mense uit al die verskillende dele van hierdie beeldskone stad. Dit is wat die projek so spesiaal maak,” sê sy, haar aandag effens afgelei deur die pragtige uitsig oor die stad en ’n tamaai fregat in die hawe. “Die projek is ’n katalisator om verhoudings te bou, ’n ligter koolstofvoetspoor, beter voeding en beter gesondheid aan te moedig en om mense bewus te maak daarvan dat daar wel ’n ander, beter manier is om te leef. Dit gaan oor bure wat mekaar vir die eerste keer ontmoet terwyl hulle saam ’n Marokkaanse mentplant in die grond druk. Is dit nie wonderlik nie?” 

Die ontwerp van die OZCF weerspieël die konteks en tydvak. Mark Stead van Derrick Integrated Communication en Tanya de Villiers van CNdV Africa het ’n sleutelrol gespeel om te verseker dat die bestaande konteks – ’n 16de-eeuse Hollandse tuin – as inspirasie dien.

Die kentekens en simbole van die destydse Vereenigde Oost-Indische Compagnie was nog ’n bron van inspirasie, en daarom is ’n diamantvorm ’n goue draad wat deur die hele projek loop – van die logo tot die fokuspunt op die plaas. Die groentebeddings gaan teen die kwaai Kaapse wind beskerm word met kruieheinings van onder meer tiemie, laventel en roosmaryn, en hulle hoop om die varswaterbronne wat deur die gebied loop te gebruik om die groente te besproei.

Terwyl ons al met die paadjies stap, verduidelik Sheryl dit is net ’n proefprojek en elke gemeenskap sal dit anders aanpak. “Ons weet dalk nou wat vir Oranjezicht werk, maar elke gemeenskap is uniek, en wat eksieperfeksie is vir Oranjezicht, sal dalk nie elders deug nie.”

Hulle is reeds deur die Bo-Kaap en Drieankerbaai genader om ook daar plase te begin. “Passie en entoesiasme is belangrike bestanddele,” sê Sheryl met ’n glimlag. “As tonne daarvan beskikbaar is, hoef jy net ’n bietjie kompos by te voeg om ’n wonderwerk te verrig.”

Besoek die webwerf www.ozcf.co.za of hou hulle vordering dop op Facebook by www.facebook.com/OZCFarm – ook indien jy graag as vrywilliger betrokke wil raak, geld, produkte of toerusting wil skenk of net meer oor die projek wil uitvind.

 

Print

Other articles that may interest you

0 Comments

There are currently no comments for this item.

Add a comment

Please sign in below or register in order to make a comment.

    Forgotton password?
    Click the above link to reset your password.
    EXPLORE VISI.CO.ZA