0 Comments

Hier kiep-kiep, daar kiep-kiep

February 20, 2013   Tags: durban, georgia chennells, kevin boyd, afro's

WOORDE Georgia Chennells FOTO’S David Louis


Read in English.

Georgia Chennells is in die wolke oor die smulpaap-revolusie in Durban, veral oor die jongste voorbeeld van die kostrok-gier: Afro’s is ’n mobiele hoenderbraairestaurant wat plaaslike geure en plekke vier met ’n praktiese ontwerp deur Kevin Boyd.

Durban se lekkerbekke moes vir lank tevrede wees met bunny chows en roti’s, maar nou slaan kos- en handwerkmarkte amper soos paddastoele op van Salt Rock tot Shongweni. By die Wonder Market is allerlei eksotiese smulgoed deesdae binne jou bereik – van geskroeide tuna met ’n Viëtnamese sous tot Belgiese wafels, Libanese platbrode en Griekse fyngebak. Durban se inwoners was nog altyd ’n kosmopolitaanse lot, en die markte wat naweke gehou word, weerspieël dit al hoe meer.

Nou het nog ’n internasionale kosgier hier kop uitgesteek: die mobiele kostrok. Hoewel die kostrok-trend al geruime tyd groot nuus is in groter stede soos Los Angeles en Londen en selfs Kaapstad, het dit nou ook in Durban posgevat.

Afro’s is ’n mobiele hoenderbraai wat plaaslike geure en plekke vier. Die blinkswart kombuis-op-wiele verklaar trots hy gebruik net vars, plaaslike bestanddele en die souse bevat geen preserveermiddels nie. Die spyskaart bied ’n eenvoudige keuse van gebraaide hoender in verskillende gedaantes – byvoorbeeld burgers of repe – en aartappeltjips wat met die hand gesny word. Die braaimeester, Greg Clelland se souse genaamd “hot” of “koel” rond die reeds smullekker prentjie af.

“Vergeet van Amerikaanse of Portugese invloede – ons is passievol oor Suid-Afrika en sit met trots kos van Afrika voor!” verklaar Greg.

Die Durbanse ontwerper Kevin Boyd wat al heelwat eetplekke op sy kerfstok het, het die uitdaging aanvaar om ’n standaard-koswaentjie in ’n bobaas braai te verander. “Die fokus was op praktiese eenvoud sonder enige fieterjasies en met slegs klein verstellings hier en daar,” sê Kevin. “Omdat die waentjie byna voortdurend aan die beweeg is, is dit  onvermydelik dat goed maklik uitmekaar trek. Daarom is prakties die wagwoord as jy ’n mobiele braaitrok wil ontwerp.”

Tog het die klein aanpassings ’n groot verskil gemaak: Die eenvoudige spuitverf-buitekant, ’n paar flambojante plakkers, uitvou-naamborde, kenmerkende koperkleur wiele en omruilbare spyskaartborde van berke-laaghout basuin dit uit dat hierdie nie sommer enige hierjy-kostrok is nie.

Hoe vergelyk dit met ’n ete in ’n gewone restaurant? “Wel, dis heelwat makliker,” sê Kevin. “En ook baie toegankliker vir mense omdat hulle dit van buite af kan ervaar – dit is nie nodig om in te stap om te weet waaroor dit gaan nie.”

Dit kom daarop neer dat die “trots plaaslike”-boodskap in die vorm van Afrika-styl hoender ’n baie groter gehoor kan bereik – van besoekers aan markte tot konstruksiewerkers. En om die pret ’n stappie verder te voer kry mense met ’n afro-haarstyl boonop hulle eerste ete gratis.

Die Afro’s-koswa maak die meeste naweke sy opwagting by markte, saamtrekke, mooi paaie en strande in Durban en omgewing. Hulle jongste staanplekke word ook op Twitter en Facebook aangekondig.

Volg @afroschicken op Twitter en “like” AfrosBraaidChickn op Facebook. Tel 031 765 6365, www.afroschicken.co.za

 

 

 

Print

Other articles that may interest you

0 Comments

There are currently no comments for this item.

Add a comment

Please sign in below or register in order to make a comment.

    Forgotton password?
    Click the above link to reset your password.
    EXPLORE VISI.CO.ZA