0 Comments

Pure Platteland

April 1, 2009   Tags: country home, architecture, design

FOTOS: Dook | PRODUKSIE: Annemarie Meintjes, Klara van Wyngaarden | WOORDE: Jacqueline Myburgh Chemaly


Omtrent elke stadsjapie raak een of ander tyd, wel, moeg van die lewe in die stad. Diegene wat uitgewyk het na Rosendal in die Vrystaat, kan nie ophou praat oor hulle nuwe definisie van luuksheid nie – eenvoud en ruimte.

Onthou jy nog die dae toe fluweel, brokaat, verguldsels en kristal dié simbole van ’n weelderige leefstyl was? Toe kom die tyd van veelvoud: Waarom net een aalwyn in ’n pot plant as jy tien van hulle in ’n ry kan pak – dis dan soveel doeltreffender…

Vandag bevind ons ons in die era van hipertegnologie: Die toppunt van weelde is die jongste tegnologie wat nie net mooi lyk nie, maar ons met enige plek ter wêreld verbind.

Tog het ons begin besef al dié oorvloedigheid en toegang tot die wêreld is nie eintlik wat ons gedink het dit is nie. Die nuwe weelde – ontwykend en eksklusief – is ’n afgeskaalde lewe wat gevul is met eenvoud, ruimte, tyd en stilte.

Dink maar aan die Vrystaatse dorpie Rosendal. Dié plekkie, met skaars 60 huise, lê in die skadu van die Witteberge daar waar die Drakensberg begin. En vir sommige is dit die antwoord op daardie hunkering na ’n eenvoudiger lewe.

Die dorp, skaars drie uur suidoos van Johannesburg af op pad Ficksburg toe, het ’n soort toevlugsoord vir kunstenaars en ander kreatiewe stadsiele geword. Hulle praat van die dorp in ’n beskermende stemtoon, so asof hulle bang is iets gebeur wat die betowering sal laat verdwyn, dít wat hulle bedrywige lewe kom regdokter het.

Ons terugkeer na ’n landelike lewenswyse word lank reeds voorspel deur stylvoorspellers soos Li Edelkoort, wat uit haar Trend Union-ateljee in Parys toekyk hoe ons die bedrywige, toenemend materialistiese en eintlik leë stadsbestaan die rug toekeer. Selfs die onbeskaamde hedonis Tom Ford het dié nuwe ontwikkeling raakgesien: “Luxury is nog going out of style,” het hy aan The Telegraph gesê, “it just needs to change its style. We need to replace hollow with deep.”

Replika van die Vrystaatse sandsteenplaashuis

Daniel van der Merwe is ’n Johannesburgse argitek wat twaalf jaar gelede die betowering van die wye oop ruimtes van Rosendal die eerste keer ervaar het. Hy was een van die eerste mense wat ’n ou sandsteenhuis op die dorp gekoop het.

Kort daarna het mense soos die kunstenaar Michele Nigrini in sy voetspore gevolg, en toe die akteur Chris van Niekerk ’n klein teater op Rosendal oopmaak, het die dorp wat die herlewing van weelde betref, ’n hoogtepunt bereik.

Onlangs het Daniel, konsultant-argitek by die Sement-enbetoninstituut in Johannesburg, twee nuwe huise ontwerp vir stadsmense wat die Rosendalse manier van lewe koester.

Die maklikste benadering tot dié ontwerpe sou wees om met ’n replika van die befaamde Vrystaatse sandsteenplaashuis vorendag te kom, maar Daniel het gevoel hy wil iets diepers, eerlikers skep as bloot ’n nabootsing van die ou boustyl. Sy moderne vertolking van die ou Vrystaatse plaashuisstyl het ’n unieke persoonlike stempel geword.

“Ek het besluit om te speel met die tipologie van plaashuise en -strukture soos skure en agri-industriële bousels,” verduidelik hy. “Ek het begin om kontekstueel na die geboue te verwys sonder om sentimenteel te wees oor tradisie. Dit het nie daaroor gegaan om ’n soort Gold Reef City te wees en bloot die ou styl te herskep nie.”

Daniel se oplossing vir al twee nuwe huise was om dit op stelte te bou, aangesien die ou kliphuise wat op fondamente staan, weens die streek se kleigrond besig is om te kraak.

In die eerste huis, wat vir die fl ambojante kospersoonlikheid Yvonne Short ontwerp is, is die resultaat ’n moderne plaashuis, kompleet met ’n staandak en stoep, maar opgerig met innoverende materiale wat in stedelike bouprojekte nog baie skaars is.

Daniel het elemente van die tradisionele argitektuur soos die stoep, skoorsteen en ’n stapelklipmuur geneem, maar dit op ’n kontemporêre manier gerekonstrueer.

Op Rosendal, sê Yvonne, het sy naweekontvlugting gevind, ’n plek waar sy vir ’n vale kan kook en vriende in eenvoud ontvang. “Ek wou hê die huis moes rondom my liefde vir onthaal ontwerp word. Die opdrag was eenvoudig: Maak die kombuis die hart van my huis en maak die meeste van daardie ongeloofl ike uitsig.”

Haar huis is gebou met splinternuwe liggewigstaalrame van Mittal-staal. “Jy stuur bloot die skets na die fabriek en hulle maak die raamwerk vir jou – dis as ’t ware ’n opslaanhuis wat met knippies aan mekaar geklik word,” verduidelik Daniel.

So omgewingsvriendelik as moontlik

Die buitekant is bedek met Vermont-planke, ’n nuwe materiaal van Everite wat ’n mengsel is van gesuiwerde houtstof en sement. Dit sorg vir ongeverfde grys skakerings wat liefl ik met die natuurlike landskap saamsmelt.

Op die stoep het Daniel nóg ’n vernuwende produk, Mikon, gebruik – dis ’n polikarbonaatbedekking wat lig deurlaat, maar 90% van die hitte en 100% van die UV-strale wegkeer.

’n Plek wat ’n soortgelyke ontwerptaal praat, maar in ’n heeltemal ander styl, is die nabygeleë huis van die rolprentmaker Wessel van Huyssteen. Vir sy behoeftes het Wessel vir Daniel gevra om ’n ruimte te ontwerp wat min onderhoud verg. Boonop moes dit op ’n klein begroting gedoen word en so omgewingsvriendelik as moontlik wees.

As inspirasie het Daniel die vorm van ’n tradisionele plaasskuur met sinkbedekte mure geneem. Tog het hy ’n onbelemmerde vloei bewerkstellig wat lig dog warm is. Al die materiale moes fokus op vermindering, hergebruik en herwinning. Die mure is byvoorbeeld met hooi geïsoleer om die ergste byt van die Vrystaatse winter uit te hou, en die droëmure binne is lig en goedkoop.

Die huis se raamwerk is van herwinde hout, die vloerplanke van uitheemse houtsoorte wat plaaslik verkry is, en ou steierplanke het op die houtdek ’n tweede lewe gekry.

’n Reënwatertenk put die meeste uit die natuurlike hulpbronne en alle gryswater word na die landskap herlei. Die huis is nie op die Eskom-rooster nie en maak volkome staat op sonkrag vir geisers en ligte. Vir verhitting en kookgeriewe word gas ingespan.

“Dié huis is ’n fantasie, ’n voorreg wat min mense beskore is,” sê Wessel. “Ek voel soos ’n koning en tegelyk totaal nederig om dié manier van leef te kan geniet.”

Al twee dié huise het, fisiek én filosofies gesproke, ’n ligte voetspoor, sê Daniel. Dis dié benadering wat die twee nuwe inwoners se houding teenoor hul kosbare Rosendal die beste weerspieël. Dis die grond en die berge wat hulle hierheen gebring het, en albei wil dié weelde met ’n passie bewaar.

Mark Twain het op ’n keer gesê: “Koop grond – hulle maak dit nie meer nie.”

Dis ’n konsep wat die verbeelding van Daniel van der Merwe aangegryp het, en hy glo dis net deur nederige, eerlike ontwerp dat dorpies soos Rosendal hulle betowering sal kan behou.

• Daniel van der Merwe: 082 600 8892, daniel.vandermerwe@cnci.org.za

Print

Other articles that may interest you

0 Comments

There are currently no comments for this item.

Add a comment

Please sign in below or register in order to make a comment.

    Forgotton password?
    Click the above link to reset your password.
    EXPLORE VISI.CO.ZA