Binneshuise kreatiwiteit

WOORDE Maciek Dubla FOTO’S Fay Jackson


Read in English.

It’s A House is een van daardie plekke wat waarskynlik nie jou oog sal vang as jy net vinnig verbyry nie, maar die binnekant is ’n wonderwêreld wat enige skeppende mens in die wolke sal hê. Maciek Dubla gesels met David Dix, een van die vennote, oor wat It’s A House a ware kreatiewe tuiste maak.

Drie vrae duik dadelik op wanneer ’n mens It’s A House se drumpel betree: Is dit ’n kantoor? Is dit ’n kroeg? Is dit ’n winkel? Om die waarheid te sê is dié weggesteekte plek in De Waterkant, Groenpunt, al drie, en hoewel die konsep aanvanklik effe verbysterend is, begin ’n mens gou ontspan met ’n drankie in die hand terwyl jy na klere van plaaslike ontwerpers kyk en ’n sakevergadering op die bankies skaars 2 meter van jou af plaasvind. Dis presies waaroor die skeppers van It’s A House gedroom het.

It’s A House is die breinkind van Scott Paterson Morris, ’n model en fotograaf, wat terwyl hy gewag het om oorsee te gaan vir ’n modelkontrak, besluit het om te belê in Suid-Afrika se jong skeppende kunstenaars. Hulle is immers belangriker as ooit noudat Kaapstad sy vere regskud as die Wêreld-ontwerphoofstad in 2014.

Scott se sakevennoot, David Dix, vertel meer oor hulle kreatiewe saamwerkprojek: “Die konsep het Scotty en ’n vriend te binne geskiet terwyl hy op die rusbank ’n fotosessie gekonseptualiseer het. Omdat hy al in omtrent al Kaapstad se koffiewinkels en restaurante was, het hy gevoel nie een van hierdie plekke plaas mense en dinge met mekaar in verbinding nie. Hy het hom toe ’n ongeïnhibeerde ruimte voorgestel waar mense met dieselfde denke en ingesteldheid kan ontmoet en blootstelling kry vir wat hulle doen.”

Hierdie gaping in die mark het Scott aan die dink gesit. Hy het gou ’n ruimte opgespoor wat nie net as die ideale platform kon dien om blootstelling vir jong kreatiewe siele te verseker nie, maar wat ook ’n ruimte kon wees waar enige en alle skeppende velde kan byeenkom, saam werk en mekaar se kreatiewe energie as inspirasie kan gebruik.

Die ruimte in ’n smal systraatjie in Groenpunt was die perfekte skoon skilderdoek. Dit was voorheen ’n leë stoorfasiliteit en daarna ’n wassery, en in die spierwit interieur kon die twee hulle wildste drome laat botvier. Die konsep van “die huis” was uiteindelik ’n vanselfsprekende gedagte.

“Die idee van ‘die huis’ is gegrond op ’n huisagtige omgewing omdat ons glo mense is die minste geïnhibeer in ’n ruimte waarin hulle gemaklik voel,” som David dit op. “Ons wou hê mense moenie net gemaklik voel nie, maar ook aanklank vind by die voorwerpe in die ruimte wat bydra om die gevoel van familiariteit en tuiste te skep. Die huis is waar ’n mens se hart is; dit vorm as’t ware die middelpunt van al die ander koel goeters wat ons doen.”

Die totale hout-interieur van It’s A House is geïnspireer deur Scott se Finse agtergrond, maar hy wou ook ’n verbintenis met die natuur bewerkstellig omdat albei glo dit help om ’n mens se voete plat op die aarde te hou. Hulle wou oorspronklik ’n ruimte hê waar alles kurwes het, maar met hulle knap begroting was dit heeltemal buite die kwessie. Daarom het hulle die fokuspunt van die ruimte ’n volsirkel gemaak: ’n sirkelkroeg met alles om dit wat ook in sirkels werk en ’n gevoel van kontinuïteit bewerkstellig.

Die meubels is ’n interessante mengsel van oud en nuut. Albei vennote het wyd gereis om al die regte stukke vir die ruimte te kry – party kom selfs uit ander mense se huise uit! Elke item het dus sentimentele waarde vir hulle, maar vind terselfdertyd aanklank by almal wat die ruimte betree en daar werk.

Integrasie. Interaksie. Samewerking. Hierdie drie woorde omvat die atmosfeer wat binne It’s A House geskep is. Kortom: It’s A House is eerder ’n tuiste, ’n ruimte waar mense gemaklik en geïnspireer voel en oor ’n koue drankie en goeie kos hulle groot idees deel terwyl die lewendige musiek in die agtergrond af en toe hulle aandag aftrek.

Maak ’n draai vir ’n koppie koffie of ’n drankie by Jarvistraat 20 in De Waterkant, Groenpunt – dit is oop van Maandag tot Saterdag van 8 vm. tot middernag. Bel hulle by 021 418 2411 as jy ’n saamtrek daar wil reël, of besoek die webwerf itsahouse.co.za