Modernistiese meesterstuk

Die argitek Rex Martienssen is een van Suid-Afrika se sterkste skakels met die Modernistiese ontwerpbeweging. Een van sy beste ontwerpe, Philippe en Carmen van der Merwe se huis, bewys dat Suid-Afrika dáár was toe alles destyds begin het.

In Greenside, Johannesburg, staan ’n onopvallende blokvormige swart-en-wit huis waar twee van Suid-Afrika se merkwaardigste ontwerpers iets nóg meer merkwaardigs geskep het – al was hulle bydraes weliswaar meer as 70 jaar uitmekaar.

Oningewydes kyk die ietwat ingetoë huis maklik mis, maar diegene met ’n voorliefde vir die onmiskenbare lyne van ’n Modernistiese meesterstuk, bewonder die huis al jare lank van die sypaadjie af.

Die Johannesburgse ontwerper Philippe van der Merwe, die een helfte van Tonic Design in Parktown-Noord, was baie jare lank een van dié bewonderaars wat soggens op pad kollege toe verby sy droomhuis gery het. Toe die huis twee jaar gelede in die mark kom, het hy na vore getree as die perfekte beskermheer vir hierdie kosbare stuk Suid-Afrikaanse argitektoniese erfenis.

Philippe, wat geruime tyd al hierdie era bestudeer en nou ’n belangrike en bekroonde kontemporêre ontwerper is, sê hulle kon die Martienssen-huis eenvoudig nie weerstaan nie.

Hy en sy vrou, Carmen, eienaar van die deliwinkel-en-restaurant The Service Station in Melville, was glad nie op soek na ’n nuwe tuiste toe hulle hoor die huis wat Martienssen destyds vir homself en sy argiteksvrou, Heather, ontwerp het, is te koop nie. “Ons was baie gelukkig in ons woonstel in Hyde Park, maar toe ons hoor hierdie huis is beskikbaar, het ons net geweet ons moet dit hê,” vertel Philippe.

Sterk Le Corbusier-invloed

Die huis is in 1939 deur Martienssen gebou en word as een van die belangrikste plaaslike voorbeelde van die Modernistiese argitektuur beskou. Martienssen het aan die hoof gestaan van die Modernistiese of Internasionale beweging in Suid-Afrika voordat hy op 37-jarige ouderdom in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het. Hy het net twee jaar in die huis gewoon voor sy dood in 1942 terwyl hy as luitenant in die Suid-Afrikaanse Lugmag diens gedoen het.

Martienssen is in 1905 in Queenstown in die Oos-Kaap gebore. Sy ouers was van Deense afkoms, wat dalk sy voorliefde verklaar vir die skoon, funksionele lyne waarvoor Skandinawiese ontwerp so bekend is. Kort ná sy geboorte het die gesin na Johannesburg verhuis waar hy uiteindelik argitektuur aan Wits gestudeer het.

In 1934 het Martienssen op een van sy oorsese reise die wêreldberoemde Switserse argitek en aanvoerder van die Modernistiese beweging in Europa, Le Corbusier, ontmoet. Die man én die beweging het ’n onuitwisbare indruk op hom gelaat. Hulle het vriende geword, en Le Corbusier se invloed is duidelik te bespeur in talle van Martienssen se ontwerpe.

Die Van der Merwes se huis in Greenside toon byvoorbeeld sterk ooreenkomste met Le Corbusier se Maison Cook, wat hy in 1926 in Parys gebou het. Philippe beskryf hulle nuwe tuiste as ’n “voorstedelike middelklasdubbelverdiepinghuis” wat baie goed beplan is. “Dit is eenvoudig en elegant, maar nie te slim nie.”

Die onderste verdieping bestaan uit ’n ingangsportaal, leefvertrek, eetgedeelte en kombuis, terwyl die boonste vlak die hoofslaapkamer, gastekamer, groot studeerkamer en twee badkamers huisves. Die kombuis en badkamers is in die jare sewentig onderskeidelik met blou en sjokoladebruin teëls versier, maar Philippe het besluit om dit eerder met klassieke swart-en-wit leiklip en marmer te vervang om die huis tot sy eertydse glorie te herstel.

Groot vensters sorg dat natuurlike lig uit alle rigtings die huis binnekom. Die voorste fasade word met ’n wit betonraam beklemtoon, amper soos ’n kunswerk. Die huis lyk nogal soos ’n abstrakte kunswerk met ’n stuk grys siersteen wat tekstuur aan die monochromatiese buitekant verleen. Die parketvloere van beukehout is nog in ’n onberispelike toestand, die mure sonder enige krake en die trapreling is van pragtige patryshout gemaak.

“Die huis is goed op die erf geposisioneer met ’n groot ‘openbare’ kant aan die voorkant en ’n meer private ruimte agter,” sê Philippe.

Spogversameling meubels en kuns

Die afgelope twee jaar is Martienssen se huis nie net een van die beste voorbeelde van die Modernistiese argitektuur nie, maar ook die perfekte tuiste vir Philippe en Carmen se spogversameling meubels en kuns. Twee Barcelona-stoele deur Ludwig Mies van der Rohe vorm die fokuspunt in die leefruimte en kon net sowel in die huis gestaan het toe dit nog aan Martienssen behoort het. Die meeste ander meubelstukke is deur Tonic, wie se ontwerpfilosofie juis deur die Modernistiese beweging en spesifiek Skandinawiese ontwerp geïnspireer is, sê Philippe.

Tonic Design, wat hy saam met Greg Gamble begin het, is deeglik bewus daarvan dat hout en staal kosbare materiale is en maak dus stukke wat die toets van die tyd sal deurstaan. Deesdae gaan baie kontemporêre argitektuur en ontwerp net oor styl pleks van ontwerp, sê Philippe, en hy glo baie van dié ontwerpe gaan in die toekoms nog deur die kritici uitmekaar geskeur word.

Tonic se sober ontwerpe volg die Modernistiese motto van eers funksie, dan vorm. Philippe en Greg verkies ook om oorspronklike Modernistiese stukke in binneruimtes te gebruik en verseker só dat hulle eie ontwerpe nie met die versamelstukke meeding nie.

Philippe se gunsteling-Tonic-ontwerp is die Hawker-bankie van Afrika-mahonie wat die Britse ontwerper Tom Dixon in 2006 by Design Indaba as die Mooiste Voorwerp in Suid-Afrika gekies het. “Ek dink dit is die verpersoonliking van wat ons by Tonic probeer doen… ’n kruising tussen ’n meubelstuk en ’n beeldhouwerk wat ’n lewe van sy eie aangeneem het.”

En dít is ’n prestasie wat beslis ook vir Rex Martienssen sou beïndruk.

• Tonic Design: 011 327 2028, www.tonicdesign.co.za