Die gelukkige nommer 13

WOORDE: Alma Viviers | FOTO’S: Greg Cox | PRODUKSIE: Etienne Hanekom


Dertien is die eerste huis wat die vermaarde argitek Johann Slee vir homself en sy gesin ontwerp en gebou het – letterlik van begin tot einde.

Die argitek Johann Slee is bekend vir die kenmerkende woonhuise wat hy ontwerp, byvoorbeeld die Rooi Huis wat in die Phaidon Atlas of 21st Century World Architecture opgeneem is, of die Kliphuis wat hom in 2008 ’n merietetoekenning van SAIA besorg het. Albei is indrukwekkende kontemporêre strukture wat uit soliede vorms ontstaan het.

Daarom is dit ietwat van ’n verrassing dat hy pleks van sy herkenbare, bekroonde styl hom eerder op die volksboustyl van die Weskusdorpie Paternoster verlaat het toe hy die heel eerste keer ’n splinternuwe huis vir homself ontwerp het.

Dit was die egtheid en kenmerkende karakter van Paternoster, asook die feit dat dit slegs ’n uur en ’n half per motor weg is van hulle huis en ateljee in Dorpstraat, Stellenbosch, wat die Slees oortuig het om ’n erf op Paternoster te koop. “ ’n Mens doen die sommetjies oor wat jy kan bekostig en waarvan jy hou,” verduidelik Johann. “Maar Paternoster beskik oor ’n egtheid, en ons was bly om hierdie spesifieke erf in ’n gevestigde woonbuurt te ontdek. Ons wou ook ’n uitsig oor die see hê, en gelukkig kan niemand hier voor ons bou nie.”

Die uitsig van hulle ’n groot stoep af word aan al twee kante geraam deur bestaande huise. Aan die een kant is Tientjie (wat in VISI 56 te sien was), die nederige vissershuisie wat die Slees onder hulle vlerk geneem en as ekstra blyplek ingerig het.

Vir hulle hoofvakansiehuis wou hulle ’n oop, sosiale huis hê waar ’n mens ’n band met ander voel, al is jy dalk stoksielalleen daar; ’n plek wat groot genoeg is vir vriende en familie, maar wat terselfdertyd intiem genoeg voel wanneer net Johann en René daar gaan uitspan. 

’n ‘H’ sonder een been

In tipiese Paternoster-styl het die huis ’n spitsdak met afgewitte mure en houthortjies in ’n grysgroen kleur. Aan die binnekant sorg fieterjasielose materiale en afwerkings soos duursame Maplette-vloere, aluminiumrame en oop houtbalke vir eerlike eenvoud.

Die plan is ’n basiese H-vorm, minus een van die bene. Van die straat af vorm die binnehof tussen die twee vleuels (die een huisves die kombuis en die ander die slaapkamers) ’n heerlike groot stoep, terwyl die oorkantste binnehof met die ingeboude braaiplek bedek is om ’n beskermde ruimte te vorm wanneer die weer verander.

Die oopplankombuis met sy lang houttafel en ingeboude houtpizzaoond – hulle kinders se enigste ontwerpvereiste – is ’n gemeenskaplike ontmoetingsplek. Hier bring die gesin baie aande deur en maak saam pizzas: “Almal is betrokke – of jy nou help om deeg te maak of die bestanddele opkap,” sê Johann.

Johann hou ook daarvan om sy esel in die binnehof staan te maak waar die polikarbonaat-dakplate die lig demp. Hy skilder wat ook al vir hom mooi is: ’n tros vars visse wat hy by die plaaslike vissermanne koop, ’n vaas vol riete, soms fynbos. “Sommige dae val die lig perfek op die water en maak alles silwer; ek probeer daardie lig in my skilderye vasvang,” sê hy.

Terwyl Johann skilder, sal jy vir René met ’n boek op die stoep aantref, of by haar Scrabble-tafel. “Ek is mal oor Scrabble, maar niemand wil ooit saam met my speel nie, en daarom het ek ’n eenman-Scrabble ontwikkel,” lag sy. “Ek laat my regterhand teen my linkerhand meeding!”

As ’n mens hom vra of sy skilderwerk ’n invloed het op sy benadering tot argitektuur, dink Johann ’n wyle. “Ek veronderstel dit gaan alles oor ’n manier van kyk, om waar te neem. Ek dink dit oefen jou oë. Ontwerp hang daarvan af om ’n goeie oog te hê; jy moet weet wanneer ’n proporsie of komposisie reg is.”

Nog ’n belangrike invloed op sy ontwerpbenadering was hulle verhuising van Gauteng na die Wes-Kaap in 2008. “Hier bestaan dinge binne ’n duideliker konteks,” verduidelik Johann. “Ek voel jy moet hier meer eerbiedig wees teenoor die dinge wat rondom jou gebeur.” Hy sê dit is moeiliker om die volksboustyl in Gauteng te identifiseer omdat dit verdwerg word deur die snelle ontwikkeling, terwyl die boustyle van verskillende plekke in die Wes-Kaap veel duideliker is.

“Maar dit het ook met ouderdom te doen,” erken hy. “Wanneer jy jonk en ambisieus is, waag jy en doen net wat jy wil, maar soos jy ouer word, besef jy hoe belangrik dit is om sensitief om te gaan met jou omgewing.”

MOENIE VERGEET NIE: Johann en René Slee wys die ware kleure van hulle lieflike Weskus-vissermanshuisie in VISI 56, wat nou te koop is.